Skool op die bult vier 7 dekades. 1953 - 2023
Vir 70 jaar staan ons blou, silwer en swart “trots” op die heuwel bo die stad. Vanselfsprekend was baie van ons toe nog nie eers gebore nie. Tyd staan nie stil nie en ons het nooit gedink dat hierdie groot verjaarsdag so vinnig sou aanbreek nie. Gedurende ons skoolloopbaan was daar ook verjaardae, wat ons saam in die skool kon beleef.
Ons het soveel mooi en spesiale herinneringe aan hierdie skool op die bult. Elke keer wanneer ek hierdie skool besoek, kyk ek uit oor die stad en dink met nostalgie terug aan ons skooljare. Met die deurblaai van albums waarin vele hoogtepunte, prestasies, oorwinnings en besondere geleenthede vervat is, kry mens ‘n warm gevoel in jou hart en sou ek dit dalk tog net weer vir ‘n week wou herbeleef. Ek self en seker baie ander koester hierdie skool wat tog ‘n groot rol in ons vormingsjare gespeel het.
Ons kan nie name uitsonder nie. Daar is so baie in die geskiedenis wat gebeur het. Om net ‘n paar uit te sonder, sal nie regverdig wees nie. Elke jaar was daar wenners, verloorders , vreugde en hartseer. Elke dag het ons geleer en geleef met respek, dissipline en trots.
Naweekprogram
Vanjaar word die skool se 70 ste verjaardag gedurende die naweek van 11 – 14 Augustus 2023 gevier. Op die Vrydagaand sal daar om 19:00 ‘n Gala Dinee in die Dinks van Zyl-skoolsaal plaasvind. Die drag is formeel en die kaartjies is beskikbaar by die skool tussen 8:00 en 14:00 of by admin@andrewrabie.co.za teen R350.00 per persoon. Kaartjies kan ook aanlyn by webtickets gekoop word. Mnr Pieter Rademeyer (jr), sal as gasspreker by die dinee optree. Mnr Rademeyer was die hoofseun van die skool in 1999. Hy is tans die hoof by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Johan Anker, hoofseun in 2010, sal as sanger optree by hierdie geleentheid.
Die ander naweekaktwiteite behels ‘n sportdag op Saterdag, 12 Augustus teen Hoërskool D F Malherbe. Die Saterdagaand is daar ‘n gesellige Steak-aand teen R120 per persoon. Kaartjies is ook tussen 8:00 en 14:00 by die skool of by admin@andrewrabie.co.za beskikbaar.
Op Maandag, 14 Augustus vind die Gedenklesing in die Dinks van Zyl-saal plaas. Die gasspreker by die Gedenklesing is Alfred Adriaan, ‘n oud-leerder van Andrew Rabie. Alfred Adriaan is die aanbieder van Roer op Kyknet en was in 2000 in matriek hier by ons skool.
Die feesprogram word op Vrydag, 18 Augustus afgesluit met Andrew Rabie se koorfees in die skoolsaal.
Aangesien dit ‘n langnaweek is, kan jy gerus ‘n dag verlof neem en probeer om ons aktiwiteite by te woon. Die mylpaal reunies van hierdie jaar is :
Klasse van :
1963 – 60 jaar
1973 – 50 jaar
1983 – 40 jaar
1993 – 30 jaar
2003 – 20 jaar
2013 – 10 jaar
HOOP OM JOU DAAR TE SIEN!!!!!!!
(Artikel deur Rene Scholtz)